Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid. Nauurse en voltydse studies in Afrikaans.
Akademia is in 2011 begin om ʼn Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit te wees wat toegang tot universiteitswese in Afrikaans bevorder en dit uitbou in die moderne internasionale samelewing. Akademia onderskei haarself van ander onderriginstansies deur leergeleenthede en studente-ondersteuning deur middel van ’n moderne tegnologiese stelsel aan te bied.
Akademia streef daarna om beide hoogstaande opleiding sowel as diepgaande opvoeding te bied. Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.
Akademia is ingevolge die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997 by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat Afrikaanse hoëronderwysinstelling geregistreer. Akademia se kwalifikasies is ook deur die Raad op Hoër Onderwys geakkrediteer – dieselfde statutêre liggaam wat openbare universiteite se kwalifikasies in Suid-Afrika akkrediteer.
In ʼn poging om toeganklike hoër onderwys in Afrikaans te bevorder, bied Akademia nauurse en voltydse studies aan. Voltydse studies word aangebied in Centurion en is ideaal vir skoolverlaters wat voltyds wil studeer en ʼn aktiewe studentelewe wil geniet. Die nauurse onderrigmodel word aangebied oor ʼn landwye netwerk van studiesentrums in Suid-Afrika, en in Namibië. Die nauurse onderrigmodel is ideaal vir studente wat wil werk en nauurs studeer. Gevorderde tegnologie verbind dosente en studente in ʼn virtuele leerruimte.