Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid. Nauurse en voltydse studies in Afrikaans.
Akademia is ’n onafhanklike privaat hoëronderwysinstelling wat vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe gevestig is. Sedert sy ontstaan in 2012 het Akademia ontwikkel tot ’n akademiese tuiste waar studente nie net vir ’n beroep toegerus word nie, maar ook hul denke en hart as verantwoordelike mense gevorm word.
Die instelling is geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding en bied geakkrediteerde kwalifikasies aan wat aan die nasionale gehaltestandaarde vir hoër onderwys voldoen. Met kampusse in Pretoria en die Paarl, asook ’n netwerk van sentrums regoor Suid-Afrika, bedien Akademia duisende studente deur beide ’n voltydse kampusmodel en ’n nauurse afstandsmodel.
As ’n Christelike, klassieke en onafhanklike instelling streef Akademia daarna om ’n akademiese tuiste te wees waar die soeke na die ware, goeie en skone sentraal staan. Die instelling se visie is om ’n ruimte te skep waar denke én hart gevorm word met die oog op ’n vrye toekoms. Daarom kombineer Akademia uitnemende beroepsgerigte opleiding met die breër vorming van studente sodat hulle betekenisvolle bydraes in hul beroepe, gemeenskappe en die samelewing kan lewer. Vanuit sy verbintenis tot Afrikaans as akademiese taal, deel van die gemeenskap en sy onafhanklike aard, bou Akademia voort aan ’n volhoubare hoëronderwysinstelling wat toekomstige geslagte toerus om verantwoordelik, vry en betekenisvol tot die samelewing by te dra.
















