Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid. Nauurse en voltydse studies in Afrikaans.
Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Dié instelling het in 2012 sy deure vir studente oopgemaak en gaan steeds van krag tot krag in sy strewe om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms.
As ʼn moderne en toekomsgerigte hoëronderwysinstelling is Akademia daartoe verbind om beide hoogstaande opleiding sowel as diepgaande opvoeding te bied. Die instelling se leuse, Ad futurum per fontes, vrylik vertaal as vanuit die bronne na die toekoms, spieël hierdie strewe. Dit beklemtoon voorts Akademia se roepingsbesef as ʼn instelling wat verbind is tot die ideale van die klassieke universiteitswese.
Akademia bied verskeie programme aan oor vyf dinamiese fakulteite, waaronder Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, en Regsgeleerdheid.
In ʼn daadwerklike poging om toeganklike hoër onderwys in Afrikaans te bevorder, bied Akademia aan studente ʼn keuse tussen twee dinamiese onderrigleermodelle. Die nauurse afstandsmodel word oor ʼn landwye netwerk van sentrums of via e-leer aangebied en is ideaal vir studente wat voltyds werk of ander belangstellings nastreef. Die voltydse kampusmodel word in Centurion by die instelling se Gerhardstraat- en Leriba-kampusse aangebied en bied aan skoolverlaters wat voltyds wil studeer die geleentheid om ook aan ʼn aktiewe studentelewe deel te neem.
*Akademia is ingevolge die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997 by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHO) as ʼn privaat Afrikaanse hoëronderwysinstelling geregistreer. Akademia se kwalifikasies is ook deur die Raad op Hoër Onderwys geakkrediteer – dieselfde statutêre liggaam wat openbare universiteite se kwalifikasies in Suid-Afrika akkrediteer.